Rooi Rose article on Cornelia:

The following article appeared on pages 36 & 37 of Rooi Rose, Januarie 2001:

... and zooming in a little bit on the wording of the article itself:

DIE PYNLIKE PAD NA VREDE

Eers was sy 'n adrenalienverslaafde jong ingenieur, toe' n gefrustreerde gestremde - maar nou het Cornelia Raath die pad van vrede en vergifnis gevind. Mariette Snyman het met haar gesels

Min mense kan na hul "eerste" en "tweede" lewe verwys en se die twee verskil in byna alle opsigte. Cornelia Raath kan. Met reg ook. Haar eerste 26 jaar is so ver verwyder van haar lewe op 30, dat sy nie eens in haar gedagtes daarheen kan teruggaan nie. Al hoe sy dit kan "onthou", is danksy die foto's teen haar sitkamermuur.

Op die foto's roei Cornelia in die skuimende water van die Zambezi, voer sy 'n ysingwekkende reksprong oor die Victoria-waterval uit en sit sy slaggereed op haar Yamaha TW200-veldfiets. Valskermspring en kung fu was van haar ander passies. Sy was 'n regte adrenalien-junkie, grinnik sy.


Cornelia se foto's, graadsertitikate en toekennings hang nie verniet waar sy hulle elke dag kan sien nie. Hulle beeld die vrou uit wat sy voor haar motorfietsongeluk was - 'n briljante elektroniese ingenieur met 'n rekenaarprogram gegrond op die neurale netwerk in die menslike brein agter haar naam, wereldwyd die eerste program in sy soort.


Op 1 Mei 1996 was die energieke vrou op pad gimnasium toe toe 'n motorbestuurder 'n stopstraat geignoreer en in haar vasgery het. Met die val is die helm van haar kop afgeruk en haar kop het die randsteen getref.

Omdat sy geen identiteitsdokumente by haar gehad het nie, het twee privaat hospitale geweier om haar op te neem. By 'n derde is sy breindood verklaar. Niemand het geweet wie sy is nie. Eers ses uur later is sy op aandrang van Hendrik Tempel, 'n ooggetuie van die ongeluk, vir skedelbreuk en breinbloeding geopereer. Toe sy drie weke later uit 'n koma bykom, het haar "tweede lewe" begin. Sy moes van voor af leer loop en praat.


Cornelia kan niks van haar "eerste lewe" onthou nie. Haar pa is 'n maand voor haar ongeluk aan breinkanker oorlede, maar sy onthou hom nie. Sy moes haar ma ook maar net glo toe sy se sy is haar ma, skerts sy.


Vroeer was Cornelia se werk haar allesoorheersende passie. Deesdae is sy 'n pensioentrekker. Met die ongeluk het sy al haar ingenieurs- en rekenaarprogrammeringskennis verloor. Haar korttermyngeheue en numeriese breinfunksies is so ernstig aangetas dat sy geen vooruitsig het om haar kennis te herwin nie.


Haar adrenalienryke bedrywighede is ook taboe omdat dit breinbloeding kan veroorsaak. Sy het buitendien chronies probleme met haar nek, rug en kniee. Lees kan sy ook nie. "Met my gebrekkige korttermyngeheue kan ek nie 'n storie volg nie. Dis nogal lastig as my vriende wil gaan fliek!"


Vroeer was sy onafhanklik; na die ongeluk moes haar ma by haar intrek en haar versorg. Cornelia het in haar woanstel aangebly omdat die slagoffer van so 'n ongeluk verkieslik in haar bekende omgewing moet bly.


Nog 'n aanpassing is die hiperstreng dieet waarop Comelia is. Sy Iy aan dermdeurlaatbaarheid, ook as gevolg van die ongeluk. Haar indrukwekkende wynversameling het nou bloot ornamentele waarde. As sy te lus raak vir wyn, se sy, streel sy maar 'n bietjie oor 'n bottel.


Te midde van haar verliese, verskeie operasies en voortdurende pyn, het een groot liefde behoue gebly: haar katte. Haar oe blink oor haar voskat, Tom, oor Jerry in sy swart en wit manelpak en oor die jongste toevoeging tot die familie, klein Tinkerbell. Saam met Charcoal, wat onlangs dood is, het Tom en Jerry verlede jaar die koerante gehaal toe Cornelia in die hof gaan veg het om hulle te behou. Die trustees van haar woanstelblok het geeis dat alle woonsteleienaars van hul troetetdiere ontslae raak. Cornelia het geweier; sedert haar ongeluk het haar lewe om haar katte gedraai. Hulle is haar kinders, sonder hulle kan sy nie leef nie.


In 'n hooggeregshofsaak is daar ten gunste van Cornelia beslis, hoofsaaklik omdat sy aansoek gedoen het om die katte aan te hou toe sy die woonstel gekoop het.


Die woonstel is deesdae vol van die mooiste loodglaslampe - Cornelia se handewerk. "My arbeidsterapeut moes vir my 'n stokperdjie kies wat darem by my ingenieursvernuf sou aansluit. Ek geniet dit vreeslik, maar jy moenie bang wees vir bloed nie. Jy het nie 'n idee hoe die glas jou vingers sny nie."


Die loodglasstander vir haar afstandbeheerders wat Cornelia van stukke invoerglas gemaak het, simboliseer in 'n sekere sin haar tweede lewe: sy het die stukke van haar eerste lewe geneem en 'n nuwe geheel daarvan gesmee.


Sy vertel dat die omvang van haar breinskade aanvanklik baie onderskat is. Die WNNR het haar pas vir haar gehou, maar met verloop van tyd het toetse die werklike skade blootgele.


Die evaluering vir haar derdeparty-eis was vir haar besonder erg. Sy is gevra om dinge te doen wat 'n gewone kind kan doen, soos om te tel - en sy kon nie. Sy het totaal nutteloos gevoel, veral in vergelyking met die intellektueel begaafde mens wat sy vroeer was. Omdat sy boonop niemand uit haar verlede kon onthou nie, het sy mense begin vermy.

Dit was vir Cornelia baie moeilik om die bestuurder wat die ongeluk veroorsaak het, te vergewe. Hoewel die bestuurder in twee howe aan roekelose en nalatige bestuur skuldig bevind is, het sy volgehou dis nie haar skuld nie.


Die eerste twee jaar na die ongeluk het haar haat vir die bestuurder Cornelia verteer. Haar frustrasies het sy op 'n slaansak uitgehaal wat in haar slaapkamer gehang het en sy is 'n maand lank in Denmar vir sielkundige behandeling opgeneem. Daar het sy haar vuiste stukkend geslaan. Sy het God verkwalik dat Hy haar uit die dood teruggebring het sonder haar verstand, wat alles in haar lewe was.


Maar in 1998 het haar lewe verander. "Deur God se genade het ek Jesus weer as my Verlosser aangeneem. Hy het my vrede met my omstandighede gegee. Ek baklei nie meer teen wat gebeur het nie, ek aanvaar dit nou. Ek het 'n nuwe identiteit."


Sy het besef dat sy die bestuurder wat die ongeluk veroorsaak het, moes vergewe, en het na 'n lang worsteling 'n brief van vergifnis aan haar geskryf. Nadat sy die brief gepos het, het haar "tweede" lewe eers werklik begin. Sy sien haar toekoms tot eer van God.


Cornelia is opgewonde daaroor dat sy onlangs weer leer tel het. Sedert haar ongeluk het sy vas geglo sy het 20 vingers en niemand kon haar anders oortuig nie, spot sy. Op 'n kerkkamp het sy skielik besef sy het tien vingers. Dis vir haar wonderlik dat ander mense se tien nou haar tien is.


Maar selfs die vermoe om te kan tel, is nie vir haar so belangrik soos haar nuwe lewensprioriteite nie. "In my vorige lewe was my briljante brein die hoofsaak. Nou weet ek: die belangrikste is om Christus se hande en voete te wees. Hoewel ek as tiener en jong volwassene glad nie voor 'n groep mense kon praat nie, kry ek deesdae die genade om groepe toe te spreek en te getuig."

 

CORNELIA TREE AS MOTlVERINGSPREKER OP WAAR SY HAAR GETUIENIS LEWER. BEL HAAR BY (012) 8O4-9080, E-POS cornelia@netactive.co.za, OF BESOEK HAAR WEBWERF BY http://www.miaauw.co.za