Die Verhaal van Cornelia Raath en haar Katte


VerhaalKat

Die Ongeluk

Op die middag van 1 Mei 1996, het Cornelia Raath by die Roos-gesin se huis aangekom.  Hul tuisrekenaar se hardeskyf het te vol geword, en Cornelia het 'n nuwe, groot hardeskyf saamgebring.  Sy het haar gereedskap langs die rekenaar gerangskik die taak met haar kenmerkende entoesiasme aangepak.

Net voor ses die aand, het Cornelia onthou dat sy nog gym toe moes gaan.  Sy het haar rugsakkie sommer langs die oopgeskroefde rekenaar gelos, want sy behoort terug te wees binne 'n uur.  Sy het haar valhelm vasgemaak, op haar motorfiets gespring en die reis begin wat na die einde van haar loopbaan sou lei.

Cornelia was op daardie stadium op die punt om 'n buitengewoon gevorderde program gebaseerd op neurale netwerke af te handel by Aerotek, WNNR.  Sy sou egter nie self die finale afronding daarvan kon doen nie.

'n Dame wat 'n stopstraat geignoreer het, het voor haar ingery.  Die briljante blonde ingenieur op haar Yamaha TW200 motorfiets het geen kans gehad om die ongeluk te vermy nie. Tydens die valslag het haar valhelm afgekom en het haar skedel teen die randsteen gekraak.

Die skade aan haar brein was permanent.  Haar korttermyngeheue en numeriese breinfunksies is uitgewis.  Alhoewel die WNNR haar pos vir twee jaar oopgehou het, was sy op die ou einde medies ongeskik verklaar om weer te begin werk.

In bitter ironie moes Cornelia Raath, 'n spesialis op neurale netwerke, op die ouderdom van 28 jaar op pensioen gaan weens breinskade.


NuusKat
 
 
 
 

Kliek om 'n groter foto te sien
Tom, Jerry en Charkie.
 

Kliek om 'n groter foto te sien
Tom en Jerry.
 

Kliek om 'n groter foto te sien
Charkie.
Hy is in August 2000 oorlede.

Die Stryd

Sy was liggaamlik en verstandelik geknak, maar nie in gees nie.  Cornelia het pynlik en stadig begin om die stukke van haar lewe weer in plek te kry.

Die brokstukke wat oorgebly het, was min.  Sy kon nie meer deelneem aan haar gunsteling adrenalien-pompers nie:  Valskermspring, bungeespring en motorfietsry was nou uit.  Miskien was die  ergste slag die feit dat sy nie meer kon onthou hoe om 'n rekenaar te gebruik nie  (Sy het in Standerd 3 (Graad 5) verslaaf geraak aan rekenaars toe haar Pa 'n ZX Spectrum huis toe gebring het).

Desondanks al die terugslae, was sy steeds 'n intelligente jong vrou, al kon sy nie meer tel of mense onthou nie.  Haar hare boudlengte gehang het, was weg, maar sy was steeds pragtig.  Vir haar was die belangrikste dat sy nog haar drie katte gehad het - Tom, Jerry en Charkie.  Hierdie drie het 'n baie belangrike rol gespeel in Cornelia se pad na herstel.

Toe kom die skok:  Die Raad van Trustees  van die blok woonstelle waar Cornelia 'n woonstel gekoop het, het besluit om alle troeteldiere in die woonstelblok te verbied.  Waarheen kon die katte gaan?  Terug DBV toe, waar sy hulle in die eerste plek gekry het?  Natuurlik het Cornelia ferm standpunt ingeneem:  Die katte is haar kinders en sy sal hulle nie uitgooi nie.  Behoede die persoon wat haar gaan probeer verplig!

Die Raad van Trustees se prokureurs het aan Cornelia 'n ultimatum gestel.  Raak van die katte ontslae, of staar geregtelike stappe in die gesig.  Cornelia was verplig om in die hof vir haar katte te gaan veg.

'n Verslaggewer van die Suid-Afrikaanse koerant, Pretoria News, het snuf in die neus gekry, wat tot die volgende berigte gelei het:

Op 9 Mei 1998 is die Cornelia Kat-Ondersteunings Groep gestig.  Na aanleiding van die Webbladsye wat Perskat opgestel het, het Cornelia bemoediginde e-pos boodskappe van oor die hele wêreld ontvang.

Dit was 'n groot oomblik op 28 April 1999, toe die Pretoriase Hooggeregshof  ten gunste van Cornelia beslis het: Sy mag haar katte in haar woonstel behou!

Van die mediaberigte wat daaroor verskyn het: 

(Die berigte op hierdie bladsye is gepubliseer met die vriendelike vergunning van die onderskeie nuusblaaie.)

Cornelia kon nou die volgende fase in haar lewe aanpak.
 


Kliek om 'n groter foto te sien
Cornelia Raath, 
soos sy vandag lyk.
 

Kliek om 'n groter foto te sien
Tinkerbell,
Cornelia se nuutste byvoeging 
tot haar gesin, gee 'n nuwe 
betekenis aan die term skoot-rekenaar!
 

Die Nuwe Lewe

Vir die eerste twee en 'n half jaar na haar ongeluk, was Cornelia steeds baie gefrustreerd met haar benarde situasie.  Sy het mense vermy.  Sy was gedurig in pyn en het 'n lang lys sekondêre gesondheidsprobleme ontwikkel.  Omdat sy nie kon konsentreer nie, kon sy nie met begrip lees nie of televisie kyk nie.  Sy kon nie eers tel nie.  Sy het 'n slaansak in die hande gekry en haar diep woede en frustrasie daarop begin uithaal.

Ander mense kon maar dink dat dit 'n wonderwerk was dat sy die ongeluk oorleef het.  Wat het sy omgegee dat sy bly leef het toe sy eintlik moes sterf?  Die dood sou meer genadiglik wees as hierdie jammerlike verskoning vir 'n lewe!

Toe gebeur die tweede wonderwerk.  Die Here Jesus het in haar lewe gekom, en Cornelia het Hom as haar persoonlike Verlosser aangeneem.

Hierdie jong Christen se lewe het so verander dat dit nooit weer dieselfde kon wees nie.  Sy het met dinge in aanraking gekom wat nie in haar ou lewe bestaan het nie.  Sy moes leer om ten volle op God te vertrou.  Sy moes die dame vergewe wat die ongeluk veroorsaak het.  Sy moes leer om pyn en ongemak te verstaan.  En toe sy hierdie dinge leer verstaan het, kon sy nie anders nie: Sy wou die nuus van haar Nuwe Lewe aan almal vertel wie sy ontmoet het!

Dit is moontlik gemaak deur die derde wonderwerk in Cornelia se lewe.  Sy het genoeg konsentrasie herwin om weer te kon skryf, weer rekenaars te leer gebruik, en eindelik, om in die openbaar te kon praat.

Hierdie gebeurtenisse het haar in staat gestel om getuienisse aan mense uit te deel oor die wonderwerk wat in haar lewe plaasgevind het.

Vervolgens het Cornelia as motiveringsspreker voor gehore begin optree om haar getuienis te lewer.  (Geinteresseerd?  Skryf vir haar by <cornelia@netactive.co.za>. Sy moet net haar uitgawes dek en vra nie geld vir haar praatjie nie.)

Cornelia het ook haar eie Webbladsy geskryf, waar jy haar getuienisse kan lees.

Wat kan ons nou van dit alles sê?

Ons laat die finale woord aan Cornelia oor:  "Ek begryp nou dat dit nie belangrik is watter mylpale, prestasies, kwalifikasies, statussimbole of besigheidsuksesse mens tydens jou lewe bereik nie... maar dat die enigste belangrike ding in hierdie lewe is om 'n lewende verhouding met die Here te hê... en om my volle gewig op ons Hemelse Vader te laat rus."

Gaan besoek nou gerus  Cornelia se Webbladsy, want....

Sy wil vir almal vertel!


'n Paar Woorde van die Skrywers

Ons as familie wil graag dankie se aan almal wat aan die "Cornelia Kat-Ondersteunings Bladsye deelgeneem het in die moeilike dae voor die Hooggeregshofsaak voorgekom het.  Cornelia was baie opgewonde oor elke enkele brief wat sy ontvang het.  Die ondersteuning wat sy van katliefhebbers oor die aardbol ontvang het, het haar aangemoedig om voort te gaan met haar stryd.

Toe ons met hierdie bladsy in Mei 1998 begin het, het Cornelia nie aan 'n rekenaar geraak sedert haar ongeluk nie.  Wonderwerke gebeur egter nog, en weens die ondersteuning wat sy op die Internet ontvang het, en natuurlik gebedsverhoring, is sy vandag heel vaardig agter haar skootrekenaar.  Ons kan net aan die Here alle eer daarvoor gee.  Sy het haar eie e-pos adres,  en as jy aan haar wil skryf, gooi gerus vir haar 'n briefie in die kuberruim.  Haar adres is <cornelia@netactive.co.za>.

- Marietjie Swart (Cornelia se suster)
 

Ek het Cornelia by 'n Microchip Seminaar ontmoet, 'n hele paar jaar gelede.  Ek was so beïndruk met die klein slimkop ingenieur wat mal is oor katte, motorfietse en rekenaars, dat ek plan gemaak het om haar beter te leer ken.  Nie lank daarna nie, het ek Cornelia se suster Marietjie ontmoet, met wie ek in 1997 getroud is :-)

Ek word steeds verbaas deur my slim skoonsussie.  Vele sterk manne wie ek ken, sou platgeslaan gewees het deur die probleme waarmee sy gekonfronteer was tussen 1996 en 2001.  Natuurlik staan sy nie alleen nie, en is die Here haar belangrikste anker waaraan sy vashou sedert die ongeluk.

- Jaco Swart (ook bekend as Perskat)


Laas hersien op 29 Januarie 2001